Art Deco

Die Chrysler-gebou, 'n voorbeeld van die Art Deco-styl
Argyle Hotel, Sunset Strip, Los Angeles (tans Sunset Tower Hotel), opgerig in 1931
Die Battersea-kragsentrale, Londen se ikoniese Art Deco-baken
Detail, Waalburg, Kaapstad. Boaan elke kant van dié Art Deco-gebou wat aan die straat front, is reliëfs met die woorde "Trust", "Versorging" en "Die vrug" met verwysing na Sanlam, die lewensversekeraar wat sy hoofkantoor vanaf 1932 hier gehad het. Die argitek was Wynand Louw van die Paarl[1]
Detail van die Niagara Mohawk-gebou in Syracuse, New York

Art Deco (Engels: [ˌɑːrt ˈdɛkoʊ], Frans: Art Déco [ardeˈkoː]), soms ook Style moderne genoem, is 'n eklektiese dekoratiewe styl in die kuns, ontwerp en argitektuur van die middel-1920's tot die middel 1940's in Europa, die Verenigde State en ander lande waarmee kunstenaars, ontwerpers en argitekte hul ontwerpe by 'n vinnig industrialiserende omgewing probeer aanpas het.

So word motiewe uit tradisionele ambagte kunsvol met materiale en visuele style van die moderne nywerheidstydperk verbind. Naas natuurlike materiale soos ivoor, jade, chroom, silwer, obsidiaan (lawaglas) en rotskristal het ook mensgemaakte sintetiese stowwe soos bakeliet (die eerste plastiekstof wat vanaf 1910 kommersieel vervaardig is), vitaglas ('n soort argitektoniese glas wat in die 1920's ontwikkel is en die fisieke welsyn van mense sou bevorder aangesien dit die son se ultraviolette strale in geboue laat binnestroom[2]) en gewapende beton[3] ingang gevind tot Art Deco-ontwerpkuns.

Kenmerkend is die gebruik van ryk kleure, opvallende geometriese vorms en weelderige versierings. Op sy hoogtepunt is Art Deco-ontwerpkuns en -argitektuur vereenselwig met maatskaplike en kulturele strominge van die "Goue Twintigerjare" waarin luukse, die leefstyl van beroemdhede, oorvloed en vertroue in maatskaplike en tegnologiese vooruitgang sentraal gestaan het. Danksy nuwe massamedia soos rolprente en die groot belangstelling vir die leefwêreld van filmsterre en welvarendes het Art Deco kort voor lank 'n wêreldwye modeverskynsel geword waarvan die stylelemente ingang gevind het tot feitlik alle terreine van die alledaagse lewe – argitektuur, meubels, voertuie, radiotoestelle, kleremodes, juweliersware, tipografie of gebruiksartikels. Ook skilderykuns en illustrasies is sterk deur die Art Deco-styl beïnvloed. Art Deco was dus 'n omvattende styl wat op 'n groot verskeidenheid terreine toegepas kon word.

Hoe sterk Art Deco-ontwerpe die eietydse tydsgees en gebeure weerspieël het, word sigbaar in die groot verskeidenheid invloede wat ingang tot die styl gevind het en in sy wêreldwye variasies tot uiting gekom. Reeds vanaf die Edwardiaanse tydperk was gehore gaande oor Russiese motiewe wat met die impresario Sergei Diaghilef se Ballets Russes as 'n volmaakte sintese van klank, dans, beeld en kostuums beleef kon word. Met die Britse argeoloog Howard Carter se opspraakwekkende ontdekking van farao Toetankamen se grafkamer in die Vallei van Konings in 1922 het Egiptiese kuns en argitektuur mense regoor die wêreld in so 'n mate fassineer dat motiewe en vorms, wat daaraan ontleen is, alomgewilde stylelemente geword het. Maar ook antieke en eksotiese beskawings – Griekeland, Rome, Afrika, Noord- en Suid-Amerika, Asië – was 'n byna onuitputbare bron van inspirasie.

Art Deco volg Art Nouveau of Jugendstil op, wat deur organiese plantaardige vorms beïnvloed is, maar in teenstelling met Art Deco nog min of geen invloede van moderne tegnologie en nuwe materiale getoon het. Art Deco is 'n voorloper van die Moderne Beweging, wat Arts & Crafts-detail met detail van die Masjien-era vermeng.[4] Die oorgange tussen die style is vloeiend, met 'n verskeidenheid stylelemente wat in al drie strominge voorkom.

Art Deco was ook een van die eerste style van moderne argitektuur. Dit is deur die verskillende style en bewegings van die vroeë 20ste eeu beïnvloed, soos die Neoklassieke, Konstruktivisme, Kubisme, Modernisme en Futurisme.[5] Die latere Art Deco van die middel tot laat 1930's word ook soms Gestroomlynde Modernisme genoem.

Art Deco het onder andere gepoog om geboue meer vaartbelyn te maak. Die styl is meer algemeen in sakegeboue as in woonhuise gebruik. Talle banke, skole en biblioteke is in hierdie styl gebou. In South Beach, Miami in die Amerikaanse deelstaat Florida het in die 1930's 'n hele Art Deco-buurt ontstaan, terwyl dié styl ook op opspraakwekkende toringgebou-projekte in New York toegepas is – waaronder die Chrysler-gebou, die Empire State-gebou en die Rockefeller-sentrum.

Alhoewel die Art Deco-styl in die meeste lande gedurende die Tweede Wêreldoorlog uit die mode geraak het nadat dit reeds in die 1920's geleidelik deur meer funksionele modernistiese ontwerpe sonder dekor vervang is,[6] was daar vanaf die laat 1960's hernieude belangstelling in Art Deco-ontwerpe. Nog in die 21ste eeu is Art Deco-kuns 'n gewilde bron van inspirasie vir ontwerpers van dekoratiewe kuns, mode en juweliersware.[7]

  1. (en) Art Deco Buildings. URL besoek op 23 April 2016.
  2. Cambridge Journals – arq: Architectural Research Quarterly, jaargang 12, nr. 3-4, bl. 269-281
  3. Encyclopædia Britannica: Art Deco
  4. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  5. Hillier, Bevis (1968). Art Deco: of the 20s and 30s. Studio Vista. p. 12. ISBN 978-0-289-27788-1.
  6. Binnenshuise argitekte in Berlyn: Art Deco en die "Goue Twintigerjare". Besoek op 1 Mei 2016 (de)
  7. Encyclopædia Britannica: Art Deco

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search